AGRI SA VERRAS MET ‘RAAMWERK’ VIR GRONDHERVORMING

Suid-Afrika se Grondwet sal nie toelaat dat ’n Zimbabwe-agtige grondherverdelingsproses hier plaasvind nie, het Gugile Nkwinti, minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, boere gister gerusgestel.

“Dit gaan nie werk nie . . . Die boere sê vir my dis ongrondwetlik en hulle is reg, want ons land is ’n grondwetlike demokrasie,” het Nkwinti by Agri SA se 110de jaarkongres buite Pretoria gesê.

By dieselfde geleentheid het Agri SA hom tot grondhervorming in Suid-Afrika verbind met ’n alternatiewe voorstel tot die sogenaamde 50-50-herverdelingsmodel waarvolgens die helfte van plase aan plaaswerkers oorgedra word.

Dié plan is wyd gekritiseer as ondeurdag, onwerkbaar en onaanvaarbaar. In ’n onverwagse wending het Nkwinti ook laat blyk nie almal in die ANC is ten gunste van die 50-50-model nie.

“Toe ons die 50-50-voorstel gemaak het, was die eerste oproep op ’n Sondagoggend van die sekretaris-generaal van die ANC, Gwede Mantashe. Hy het gesê: ‘Ek het ’n plaas van R2 miljoen gekoop, en nou wil jy R1 miljoen nasionaliseer’.

“Hy het gesê hy stem nie met my saam nie. Die sekretaris-generaal van die ANC het ook op televisie gesê dis nie in ooreenstemming met die party se resolusies nie.”

Agri SA se alternatiewe grondhervormingsvoorstel – getiteld “Agri SA se holistiese plan vir grondhervorming in Suid-Afrika” – behels onder meer:

? Boere moet bemagtig word, en dit moet daartoe lei dat landelike inwoners hul eie toekoms bepaal;

? Distrikskomitees moet grond en potensiële bevoordeeldes vir hervormingsdoeleindes help bepaal;

? Die komitees moet toesig hou oor hervormingsprojekte in hul gemeenskappe;

? Deelname is nie verpligtend nie, maar daar moet genoegsame aanmoediging in die vorm van belonings wees; en

? Agri SA verbind hom ook tot die ontwikkeling van entrepreneurskap en die maatskaplike opheffing van plaaswerkers en plaaswerkergemeenskappe.

“Die identifisering en evaluering van bevoordeeldes is van kritieke belang,” het Johannes Möller, president van Agri SA, bygevoeg. “Dit moet gesteun word deur relevante opleiding en tegniese steun.”

Volgens hom is dit in belang van ’n bestendige en vooruitstrewende landboubedryf dat mense uit voorheen benadeelde gemeenskappe beter toegang tot grond kry. “ ’n Goed ontwerpte en goed uitgevoerde grondhervormingstelsel sal bydra tot ’n stabiele en winsgewende landboubedryf.”

Dié voorstelle het Nkwinti onkant betrap. Hy het sy voorbereide toespraak eenkant gelaat en gesê hy het na die kongres gekom om Agri SA te versoek om in te koop by grondhervorming. “Ek weet nie wat om nou te sê nie. My enigste kritiek is: Hoekom het julle dit nie al ­vroeër gedoen nie? Julle maak egter my dag.”

Volgens Möller is Agri SA bereid om deurgaans met die regering te onderhandel oor grondverdeling.

“ ’n Situasie soos in Zimbabwe is nie onmoontlik nie, maar dit is hoogs onwaarskynlik . . . Die boere in Zimbabwe wat die meeste daaronder ly, is opkomende boere . . . Ek dink ons regering besef dit.”