BRUG TUSSEN BOERE, ANC
Voedselsekerheid en grondherverdeling is ononderhandelbare aspekte van die transformasie van die landbou. Roelf Meyer skryf die regering beskou kommersiële boere as ’n strategiese vennoot.
Die onlangse “grond-imbizo” wat op 26 Februarie by die Gordon Institute for Business Science (Gibs) gehou is, is die derde van sy soort sedert Junie 2012 en het ’n belangrike gespreksmeganisme verskaf vir rolspelers in die landbou om in openhartige dialoog met die regerende party se leierskorps oor landbou en grondhervormingsake te tree.
Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, het met ’n aantal van die kommersiële boere vergader as deel van ’n reeks afsprake gedryf deur ’n private inisiatief in samewerking met die In Transformation Initiative en Standard Bank se Sentrum vir Agribesigheids-ontwikkeling en -leierskap aan die Universiteit Stellenbosch (US).
Die bereidwilligheid van Mantashe, wat self ’n boer in die Elliot-MacLear-distrik is, om met kommersiële boere in gesprek te tree, rig duidelik ’n brug op tussen hierdie boere en die regerende party met betrekking tot verskeie betwiste landboubeleidskwessies, en in dié geval met betrekking tot die tweeledige imperatief om “ ’n balans te vind tussen die behoefte om die beleid te transformeer en om te verseker dat voedselsekerheid gehandhaaf word”.
Soos Mantashe aangedui het, dra die robuuste debat tydens hierdie forums daadwerklik by tot die voortgesette evolusie van landboubeleid en dien dit om ’n positiewe verhouding tussen die regerende party en vooraanstaande kommersiële boere daar te stel. Die formulering van landboubeleid word nie as staties beskou nie, maar eerder as ’n oop proses, in soverre beleidsposisies en openbare verklarings altyd oop is vir konstruktiewe debat om weerspreking te verminder en beleidsooreenstemming te onderhou.
Van besonderse belang is dat Mantashe herhaal het dat die Nasionale Ontwikkelingsplan steeds die strategiese raamwerk is waarin toekomstige landboustrategie en landbou-ontwikkeling nagestreef sal word.
“Die formulering van landboubeleid word nie as staties beskou nie, maar eerder as ’n oop proses, in soverre beleidsposisies en openbare verklarings altyd oop is vir konstruktiewe debat om weerspreking te verminder en beleidsooreenstemming te onderhou. ”
Mantashe het die kommersiële boere op ’n gebalanseerde en onpartydige manier ’n oorsig gegee van die regerende party se huidige perspektiewe op grondhervorming en landbou, wat die erns waarmee die ANC betrokke is by sulke kwessies benadruk, waaronder:
? Die erkenning dat grondhervorming ’n baie sensitiewe saak is en op grond van die aard daarvan nog ’n ruk omstrede sal wees;
? Die verbintenis om landbousake ernstig en verantwoordelik te hanteer en agri-produksie uit te brei om Suid-Afrika se voedselsekerheid te verseker;
? Die politieke verbintenis tot die transformasie van landbou deur grondhervorming, herstelprogramme, die ontwikkeling van ’n sterk landelike ekonomie en die daarmee gepaardgaande landelike werksgeleenthede, insluitend die vestiging en ondersteuning van nuwe, jong, swart kommersiële boere; en
? Die belangrikheid van die vestiging van landbou as ’n afsonderlike ekonomiese sektor wat ’n beduidende bydrae kan maak om die aanspreek van Suid-Afrika se ontwikkelingsuitdagings aan te pak.
Die vooraanstaande kommersiële boere het hul eie kommer uitgespreek oor landbou-ontwikkeling en grondhervorming, waaronder veral:
? ’n Persepsie van voortdurend bewegende beleidsdoelwitte;
? ’n Bespeurde teenstrydigheid in die beleid van die departemente wat in landbou en landelike ontwikkelingsinisiatiewe betrokke is en die afwesigheid van ’n “duidelike stel ooreengekome reëls” vir landboubemagtigingsprojekte; oor al die departemente heen.
? Dat die regering eienaarskap hou van die grond wat tydens hervormings- en herstelprogramme gehanteer word, verhinder die verkryging van bedryfskapitaal en het gevolglik ’n negatiewe uitwerking op die lewensvatbaarheid van agri-bemagtigingsprojekte; en
? Die bespeurde nie-oordrag van die geld wat deur die regering vir grondhervorming en landbou-ondersteuningsprogramme toegesê word na bemagtigingsprojekte en ondersteuning aan ontluikende boere op grondvlak.
Terwyl Mantashe sommige van die teenstrydighede in beleid en die begrensde kapasiteit van staatsdepartemente erken het, het hy ook benadruk dat die tyd nou reg is om verby die ontwikkeling van beleid te beweeg na die uitvoering van praktiese landboubemagtigingsprojekte deur ’n vennootskap tussen die regering, nuwe en ontluikende boere en bestaande kommersiële boere op alle vlakke.
Die regerende party streef dus na ’n vennootskapsooreenkoms met die kommersiële landbou deur die ontwikkeling van konkrete projekte en praktiese bemagtigingsmodelle, waarvan die onlangse inisiatiewe in die Witzenburg- en die Mopani-distrik getuig, waar boere self die inisiatief geneem het om bemagtigingsprogramme in hulle onderskeie distrikte te dryf.
???
Die openhartige en by tye blatant reguit woordewisselings tydens die ‘grond-imbizo’het met nadruk goedgesindheid tussen die regerende party en die vooraanstaande kommersiële boere gevestig. Laasgenoemde het hul bereidwilligheid sterk uitgespreek om in vennootskap met die regering te tree en het hulle daartoe verbind om by te dra tot die bemagtiging van klein en ontluikende boere om volhoubare kommersiële boere te word.
“Daar is ’n duidelike behoefte aan die skepping van ’n progressiewe koppelvlak tussen die regering, individuele landbouleiers en georganiseerde kommersiële landbou.”
’n Verfrissende verbintenis tot die ontwikkeling van ’n gemeenskaplike perspektief op grondhervorming en landbou-ontwikkeling moet deur die betrokkenheid van alle belanghebbers geskep word. Die kommersiële boer word as ’n strategiese vennoot in sulke bemagtigingsinisiatiewe beskou.
Mantashe se erkenning dat daar nie ’n “een grootte pasgemaakte beleidsmodel” kan wees nie, is ook baie welkom. Dit demonstreer ’n volwasse wordende Suid-Afrikaanse landboubeleid waarin verskillende modelle Suid-Afrika se verskillende bioklimaatstreke in ag neem, sowel as die verskillende vlakke van boerdery-intensiteit wat vir die 37 kommoditeitsektore benodig word. Hy het die vooraanstaande kommersiële boere ingelig dat die regerende party gretig wag op hul agri-bemagtigings- en ontwikkelingsmodelle/voorstelle vir die 37 kommoditeitsektore.
???
Mantashe se verbintenis tot grondwetlike beginsels en die beginsel van billike en regverdige waarde in die oordrag van grond verskaf versekering aan kommersiële boere en beleggers in die landbou.
Daar is opgemerk dat, as die produkte van die opvoedings- en ontwikkelingsprogramme op hierdie kommersiële plase ’n kern van jong swart boere is met die nodige vaardighede om plase te bedryf, sulke plase aan hulle oorgedra sou word.
Die leier kommersiële boere het almal die oproep vanuit die kabinetslekgotla vir ’n Operasie Phakisa-ingryping vir landbou (hoewel met ’n ander naam) herhaal, sowel as die vestiging van ’n “strydkamer” vir ’n benadering van die hele regering tot grondhervorming en landbou-ontwikkeling.
???
Gestruktureerde betrokkenheid soos dié , soos tydens hierdie ‘grond-imbizo’ waar landbouleiers met regeringsleiers in hulle persoonlike hoedanighede bymekaarkom, het reeds waarde getoon in die skepping van strategiese dialoog oor belangrike grondhervoming- en landbousake. Daar is ’n duidelike behoefte aan die skepping van ’n progressiewe koppelvlak tussen die regering, individuele landbouleiers en georganiseerde kommersiële landbou oor toekomstige landboudenke, beleidsformulering en strategie-ontwikkeling, die deel van idees oor landbou-ontwikkelingsinisiatiewe en die toets van die doeltreffendheid van grondhervorming en landboubeleid.
Hoewel die ‘grond-imbizo’ ’n privaatinisiatief bly, het Mantashe en die kommersiële boere wat dit bygewoon het tot die slotsom gekom dat daar op ’n gereelde grondslag met hierdie gestruktureerde dialoog voortgegaan moet word.Op Mantashe se versoek is ekself en prof. Mohammad Karaan gevra om gesamentlik te verseker dat verdere dialoog gefasiliteer word en dat, met behulp van die hulpbronne van die In Transformation Initiative en Standard Bank se Sentrum vir Agribesigheidsontwikkeling en -leierskap aan die US, ’n sentrale punt geskep word van waar verdere stappe gekoördineer en hulpbronne aangewend kan word.
Mantashe het homself bewys as ’n man met wie kommersiële boere openlik en openhartig kan praat vanweë sy “boerehart” en die beleidsformuleringsrol wat hy in die ANC speel.
Deur Roelf Meyer Donderdag 12 Maart 2015