Diensbillikheid
Byna 1 500 maatskappye gaan voor die hof gedaag word weens versuim om aan wetsvereistes oor diensbillikheid te voldoen.
Die kommissie vir diensbillikheid (Commission for Employment Equity, CEE) het vanoggend die 2014-verslag daaroor in Pretoria bekend gestel.
Thembinkosi Mkalipi, hoofdirekteur vir arbeidsverhoudinge in die departement, het gesê dit sal die eerste keer wees sedert die Wet op Diensbillikheid ingestel is dat die departement van arbeid maatskappye voor die hof daag wat versuim om verslag te doen oor hul diensbillikheidsteikens.
Die maatskappye kan boetes opgelê word van nagenoeg R1,5 miljoen of 2% van hul jaarlikse omset – wat ook al die grootste bedrag is.
Mkalipi het dit duidelik gemaak hulle gaan veral die groter maatskappye aanvat wat die geld het om die regering in die hof teen te staan.
Thobile Lamati, direkteur-generaal van die departement, het op sy beurt gesê die sake van die eerste 77 werkgewers wat versuim het om verslae in te dien, is reeds op pad arbeidshof toe. Nog 1 400 sal volg uit provinsies soos die Wes-Kaap, Gauteng en KwaZulu-Natal.
,