Gwede Mantashe waarsku landbou: “Moenie ANC in die tande skop”

Agri SA ontsteld ná hy hulle leviete voorlees oor grond

Deur Leanne George Vrydag 27 Februarie 2015 03:00

Japie Grobler, voorsitter van die Landbou-eenheidsforum (Asuf), kry Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, Donderdag aan sy baadjie beet tydens die derde grond-imbizo in Illovo. Johannesburg. Foto: Denzil Maregele

Die vertrouensbreuk tussen die regering en boere het Donderdag op die derde imbizo oor grondhervorming verdiep toe Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, ’n waarskuwing gerig het aan diegene wat “nie met die ANC in gesprek wil tree nie”.

“Die ANC is nie roekeloos nie, maar as hulle met jou in gesprek tree en jy skop hulle in die tande, gaan anargie heers.

“Ons sien dit elke dag in die parlement,” het Mantashe driftig gesê ná boere en leiers in die landbousektor bevraagteken het of die ANC se grondbeleid nog in ooreenstemming is met die Nasionale Ontwikkelingsplan en die NOP se vryemarkbeginsels.

“Ons is onseker hoe toegewyd die regering nog aan die NOP is,” het Hans van der Merwe, hoofbestuurder van Agri SA, gesê.

“Mense moenie sê die ANC is nie in lyn met die NOP nie; dis dan óns beleid. Die ANC is nóg Marxisties, nóg kapitalisties,” het Mantashe later aan Beeld gesê.

“Maar diegene wat sê die NOP is op vryemarkbeginsels geskoei, oordryf. Mense moenie te veel ideologie hierby insleep nie.”

Pres. Jacob Zuma het boere totaal onkant betrap met radikale voorstelle in sy staatsrede.

Hy het gesê die regering gaan die voorstel “ondersoek” om 50% van plase aan plaaswerkers oor te dra en dat die gewillige koper, gewillige verkoper-beginsel iets van die verlede gaan wees.

Die omstrede “grondplafon-voorstel” het veral die oë laat rek: Volgens konsepwetgewing mag elke boer slegs 12 000 hektaar grond of twee plase besit.

Boere was sigbaar ontsteld tydens die imbizo in Johannesburg en het hul verwarring uitgespreek omdat Zuma dié voorstelle uit die bloute ter tafel gelê het. Dít terwyl die georganiseerde landbou onder die indruk was hulle het nog etlike weke om te kom met hul eie voorstelle oor grondhervorming.

“Ons is nie gevra om insette te gee in die radikale uitsprake nie,” het Van der Merwe gesê.

Mantashe het by navraag só daarop gereageer: “Dis net radikale uitsprake as jy een van dié is wat grond besit. As jy niks besit nie, klink dit glad nie radikaal nie.”

Mantashe het verwys na die Chinese wat doeltreffend en intensief op klein lappe grond boer.

Gwede Mantashe, die ANC se sekretaris-generaal, het gister tydens die derde imbizo oor grondhervorming gewaarsku diegene met wie die ANC in gesprek tree moenie “hulle in die tande skop nie”. (Foto: Simone Kley)

Volgens Van der Merwe moet die regering “die grondhervormingsproses fasiliteer, eerder as om dit te probeer reguleer en domineer”.

“Die 50%- en grondplafon-voorstelle kan nie toegepas word nie en is onbekostigbaar.”

Mantashe het egter gesê boere moet ophou kla, want daar is min boere wat meer as 12 000 hektaar grond besit.

“Behalwe vir hier en daar in die middel van die Karoo en miskien ’n paar suikerboere kry jy kwalik ’n boer wat meer as 12 000 hektaar grond het.

“Die debat hieroor is akademies.

“Die rede waarom die grondplafon-voorstel nie kan werk nie, hou nie verband met ’n tekort aan grond nie. Ons het ’n tekort aan water,” het Johannes Möller, president van Agri SA, later verduidelik.

Mantashe het ook driftig gesê toegang tot grond sal altyd ’n emosionele kwessie wees: “Jy moet toegang tot grond hê om te kan boer. Ons moet versigtig wees om emosie heeltemal uit die prentjie te haal. Emosie gaan altyd rasionele denke (wat grond betref) troef.”

Hy het vroeër gesê: “Ons soek stelselmatige verandering en niks wat skielik die landbousektor kan vernietig nie. Landbou kan in die toekoms tot 12% van die land se bruto binnelandse produk (BBP) bydra, mits ons geloof in dié sektor toon.”

Verwarring:

Boere is verward weens die “wankommunikasie” tussen die onderskeie regeringsdepartemente.

Gugile Nkwinti, minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, was verlede jaar vol lof vir AgriSA se voorstelle oor grondhervorming. Tog het nóg hy, nóg Senzeni Zokwana, landbouminister, hul opwagting by die imbizo gemaak.

Gwede Mantashe, self ’n boer en die ANC se sekretaris-generaal, die In Transformation Initiative (ITI) en landbouleiers het om die beurt hul mening gelug oor grondhervorming.

“Die ministers het op die nipper laat weet hulle kan nie kom nie. Maar dit maak nie saak nie. Hulle vergader Vrydag (vandag) met die boere,” het Mantashe gesê. Hy kon egter nie sê watter boere nie.

Die georganiseerde landbou is dit eens grondhervorming is noodsaaklik.

Johannes Möller, president van Agri SA het gesê: “Ons voel nie noodwendig ons voorstelle word geïgnoreer nie. Ons is bekommerd dat die tydsraamwerk wat ons gegun is om met voorstelle te kom, bly verskuif en dat dit te kort is.”