’N FEITESENDING GAAN DIE BEWEERDE UITSETTINGS VAN PLAASWERKERS IN DIE WES-KAAP BEKYK, IN OPDRAG VAN MNR. GUGILE NKWINTI
Senior beamptes van die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming sal Maandag, 20 Oktober, ‘n feitesending na die Wes-Kaap onderneem om die werklike prentjie rakende die bewerings rondom uitsetting te kry, sê mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming.
Nkwinti het aan Landbouweekblad gesê hy glo nie die uitsetting hou verband met sy 50%-grondvoorstel nie.
“Daar is geen bewyse nie, nie eens die Instituut vir Armoede-, Grond- en Landelike Studies (Plaas) het sekerheid dat die voorstel enigsins verband hou met die uitsettings nie. Ons het ons span gevra om na die land as geheel te kyk om brandpunte vir uitsettings uit te wys. Die Wes-Kaap is een van hierdie brandpunte.”
Nkwinti sê hy het ‘n brief van mnr. Alan Winde, Wes-Kaapse LUR vir landbou, gekry waar hy vra vir bewyse van die onwettige uitsettings. Die vakbond Bawusa het ook ‘n brief aan hom geskryf waarin die 50%-voorstel die skuld gegee word vir die uitsettings.
“Ons moet vasstel of dit waar of onwaar is. As mense wel in die Wes-Kaap uitgesit is, soos beweer word, dan is dit ‘n menseregtekwessie. In Bawusa se brief word geskryf van gestremdes en ander wat weggejaag word”