SELFS DIE WÊRELDEKONOMIE SE BRANDBESTRYDER KAN SA VLAMME NIE BLUS

Deur Mike Schüssler, Sake-siening Maandag 13 Oktober 2014 12:30 vm.

Verlede week het die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) die groeivooruitsigte vir die wêreldekonomie vir vanjaar van 3,4% tot 3,3% afgeskaal.

Dié besluit is verwag, maar word as waarskynlik steeds ietwat optimisties beskou.

Die IMF verwag dat die wêreldekonomie in die ses jaar tot 2019 maar teen 3,9% per jaar sal groei.

Die verwagtinge vir Suid-Afrika is selfs erger: Die verwagte groei is van 2,4% in April tot net 1,4% verlaag.

Oor ’n langer tydperk sal Suid-Afrika se groei nog meer verlangsaam.

Die IMF, wat gewoonlik baie optimisties is, voorspel gemiddelde groei van net 2,4% per jaar tot 2019! Net ses maande gelede het die IMF 2,9% voorspel, wat klaar heelwat swakker is as die 3,2% wat in 2013 verwag is en die 3,5% van 2012.

Die 2017-groeivooruitskatting was byvoorbeeld skaars twee jaar gelede 5% – nou is dit 2,7%. Geen jaar vorentoe het ’n BBP-groeivooruitskatting van die IMF wat meer as 2,8% is nie.

Daar word nie ’n wesenlike verbetering in die werkloosheidskoers verwag nie; dit sal in die volgende ses jaar op min of meer 25% bly. Die IMF skat nie die beplande 5 miljoen poste vooruit nie en dis duidelik dat hulle reken werkloosheidsyfers sal toeneem.

Intussen sal die tekort op die lopende rekening gemiddeld 5,2% van die bruto binnelandse produk (BBP) tot 2019 beloop.

Voeg dan die regering se strukturele tekort daarby, wat op 5% oor dieselfde tydperk geraam word.

Ons word dus die eerste land met ’n gemiddelde tweeledige tekort van 10% van die BBP in ’n dekade.

Dit is nie volhoubaar nie.

Dít en die regering se dalende inkomste beteken dat die skuld-tot-BBP-koers tot naby 60% sal styg, volgens die IMF. Dit gaan heel waarskynlik eerder 70% wees, aangesien die regering nie daarvan sal hou om besteding te besnoei nie.

Dié aangepaste voorspellings van die wêreldliggaam trek die klere uit wat die keiser gedink het hy dra. Swak groei, hoë werkloosheid, groot tekorte en prysstygings van ver bo die wêreldgemiddelde lig ons powere ekonomiese vertoning uit.

Die afgelope vyf jaar se groei was maar gemiddeld 1,9% per jaar en die volgende vyf gaan nie soveel beter wees nie.

Onthou, dit is nie die een of ander gemene malle wat Suid-Afrika wil diskrediteer nie. Dit is die IMF.

Ja, die einste, die wêreld se ekonomiese brandbestryder, wat gewoonlik ’n woordjie of drie in jou land of regering se guns sê. Dié keer wys hy egter net op die gevare waarvoor Suid-Afrika te staan kom.

Die rooskleurige lense word vinnig donker – miskien té donker – maar buitelanders is nou meer bekommerd oor hul Suid-Afrikaanse bates.

Hulle word nou baie waaksaam en al hoe meer praat met plaaslike kenners om te hoor hoe sake staan.

Vir seker is dit nie net Suid-Afrika wat probleme het nie. Europa sukkel ook, maar die punt hier is dat daar nie ’n ander ontluikende mark met dié vlak van werkloosheid en swak groeivooruitsigte is nie.

’n Paar onkonvensionele voorspellings van my eie:

? Die gaping tussen verwagtinge en die werklikheid gaan groter word. Politiek sal die gevangene van dié gaping word.

? Die breër werkloosheidsyfer sal teen 2019 meer as 10 miljoen wees.

? Mense wat werk, gaan ’n al hoe kleiner deel van die volwasse bevolking uitmaak en hulle sal onveiliger voel. Die spanning aan die werkfront sal vererger namate meer mense vir minder werk baklei.

? Misdaad sal vererger soos wat die see van werklose jong mense groei.

? Polities gesproke is ons verby die kruispad en gaan ons al hoe meer radikale partye aan die linkerkant sien opspring soos wat die idee dat ultra-linkse beleid ons kan red, aangevuur word deur dié met politieke ambisies (wat, per slot van rekening, ook ’n werk is).

? Rasse-bevoorregting sal die skuld bly kry vir baie van die probleme en die regering se foute sal voor die deur van die private sektor gelê word.

Maar die knyptang kom en die oplossings sal ons dalk nog verras. Radikale linksgesinde politici wêreldwyd kry ’n hartaanval wanneer hulle die binnekant van leë kaste gewys word!

Onthou, dit is nie die een of ander gemene malle wat Suid-Afrika wil diskrediteer nie. Dit is die IMF. Ja, die einste, die wêreld se ekonomiese brandbestryder. ” – Mike Schüssler

Die privatisering van Eskom en Rand Water kan ’n opsie wees wanneer die geld begin opdroog, asook die sluiting van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) en die Gautrein, wat albei miljarde rande per jaar kos.

Die verkoop van wildreservate en openbare uitsaaiers is dalk nog nie op die tafel nie, maar dit kan ook deel van die oplossing word.

Die wêreld se vierde grootste openbare betaalstaat as persentasie van die BBP sal ook besnoei moet word – en dít sal dalk net lei tot die einde van die regerende alliansie, aangesien staatsdiensvakbonde nou Cosatu beheer.

Meer dinge sal uitgekontrakteer word, soos gesondheidsorg en onderrig. Dit sal aanvanklik stil-stil gebeur, maar moenie verras wees as jou plaaslike skool aan die gemeenskap gegee word nie.

Die provinsies sal ook in verskillende rigtings gaan soos wat die ryker provinsies, soos Gauteng en die Wes-Kaap, begin voel hulle kry nie meer hul billike sny van die koek nie. Migrasie na stede sal voortduur en diensleweringsbetogings sal van die townships na voorstede beweeg, waar die water- en kragkrisis ook tot radikalisering sal lei.

Die e-tol-beweging was die eerste openlike opstand teen belasting en die nie-betaling van munisipale dienste het in Junie R75 miljard gehaal vir rekeninge wat 90 dae agterstallig is – en dít ondanks afskrywings van R10,6 miljard die afgelope jaar.

Voorstede sluit aan by die nie-betaal-revolusie, soos wat hulle met e-tol en die wanbetaling van verkeersboetes doen. Dit word reeds op gemeenskapsforums en plaaslike sakekamers bespreek.

Die koekie is besig om te verkrummel en die rotte en muise gaan oor die krummels baklei.

Die verswakkende tendens in ekonomiese groei sal verander hoe mense dink en optree. Dit sal dalk net die alarm wees wat die land nodig het – maar dit gaan pynlik wees.

? Mike Schüssler is die hoofekonoom van Economists.co.za en ’n voormalige wenner van Sake se Ekonoom van die Jaar-kompetisie.