Swartvlek

Sitrusuitvoer sal nie deur die Europese Unie (EU) se verbod geraak word nie, want dis net van toepassing op die 2013-seisoen, wat reeds in Oktober verby is.

Só sê prof. Vaughan Hattingh, uitvoerende hoof van die Sitruskwekersvereniging, in ’n verklaring op die vereniging se webwerf.

Die vereniging vind die beperking wat Donderdag deur die Europese Kommissie aangekondig is, “verrassend en teleurstellend”, veral in die lig van die onderneming wat José Barroso, EU-president, in Julie aan pres. Jacob Zuma gegee het dat ’n verbod nié in 2013 ingestel gaan word nie.

“’n Internasionale paneel wetenskaplikes het insette aan die Europese voedselveiligheidsowerheid gegee en bevind dat die uitvoer van sitrusvrugte geen risiko inhou vir Europese sitrusproduksie nie.”

Swartvlek, ’n fungus, is ook nie skadelik vir mense nie.

Die EU het vanjaar al op 36 besendings uit Suid-Afrika beslag gelê wat besmet is. Die verbod geld vir al die gebiede waar swartvlek voorkom, wat omtrent die hele produksiegebied, behalwe die Wes- en die Noord-Kaap, is.

Suid-Afrika voer tot 40% van sy sitrus, ter waarde van sowat R3 miljard, per jaar na die EU uit. Naas Spanje en Turkye is Suid-Afrika die grootste produsent van sitrus wêreldwyd.

Die bedryf verskaf heeltyds werk aan sowat 60 000 mense en deeltyds aan tot 100 000 mense en ’n verbod in die toekoms kan werk in die gedrang bring.

EU-amptenare het gewaarsku dat die beperkings tot 2014 verleng sal word indien daar in ’n studie bevind word dat swartvlek van Suid-Afrikaanse ingevoerde sitrusprodukte na die EU se boorde kan versprei.

Die verbod kom op ’n tydstip dat die EU die steun van Suid-Afrika benodig om nuwe handelsooreenkomste met Afrika suid van die Sahara te sluit. Die vordering met dié ooreenkomste is tans baie stadig.

“Die Suid-Afrikaanse sitrusbedryf het ver gegaan, teen massiewe koste, ten einde te voldoen aan die vereistes wat die EU stel,” sê Hattingh.

“Ondanks die aankondiging bly die bedryf ten volle verbind tot samewerking met die Suid-Afrikaanse departement van landbou, bosbou en visserye en die Europese Kommissie sodat ons kan voortgaan om sitrusvrugte na Europa uit te voer. Die bedryf sal alle weë ondersoek om ’n oplossing te vind wat vir alle betrokke partye aanvaarbaar is.”