Wat behels gemeenskaplike behuising (communal housing)?

Volgens Sektorale Vasstelling 13, (sien seksie 8 (6) (a) en (b) word dit beskou as behuising waar meer as 2 plaaswerkers saam in woon en almal op die spesifieke plaas werk.
Waar die verwarring inkom is wat presies met gemeenskaplike behuising bedoel word en hoe die aftrekking vir die bewoning hanteer moet word.
Dit sluit beide ‘n huis en hostel in en die aftrekking word as volg hanteer:
Neem die heersende minimumloon en maal dit met 25%. Hierdie bedrag word gelykop verdeel deur al die bewoners. (Met ‘n maksimum van 10% aftrekking per persoon)
Daar is diegene wat van mening is dit moet net verdeel word onder die aantal persone per vertrek, maar dit is foutief.
So byvoorbeeld kan dit gebeur dat ‘n pa, ma en seun almal op die plaas werk en saam in ‘n huis bly. Dit is dan gemeenskaplike behuising en die 25% reël geld. Dit is dus nie nodig dat al drie hierdie persone in een vertrek bly nie.
Noodwendig het dit nadelige gevolge vir werkgewers met hostelle wat tot 400 mense kan huisves!
Met die huidige minimumloon van R27.58 per uur en indien mense 9 uur per dag en 5 dae per week werk is die totaal wat gehef mag word dus R310.27 per week. Gedeel deur 100 inwoners is dit R3.10 per inwoner, indien 200 inwoners is dit R1.55 en indien 400 is dit 78c per inwoner per week. ‘n Belaglike lae bedrag indien daar bv ook elektrisiteit voorsien moet word.
‘n Verdere vraag is hoe die aftrekking hanteer moet word waar die inwoners gekontrakteer is vir “geen werk, geen betaling” en dan nie ‘n vol week werk nie.
Ofskoon ons nog nie by die Departement van Werkskepping en Arbeid ‘n antwoord kon kry nie, blyk dit dat die minimumloon vir die ure of dae wel gewerk, gebruik kan word.
Die 10% aftrekking bly van krag waar daar minder as 3 werkende persone op die plaas in ‘n huis bly en word van die huishoof se volle loon verhaal en is dit nie gebaseer op die minimumloon nie. (sien Sek 13 (8) 1b)
Let ten slotte daarop dat geen verhaling vir behuising van persone onder die ouderdom van 18 jaar verhaal mag word nie.
Skakel ons gerus indien u verdere opklaring benodig.
johan@hopcal.co.za
021 863 0830