Wyn lewer enorme bydrae tot BBP, skep werk

Alle provinsies trek hieruit voordeel, nie net Wes-Kaap

Deur Francois Williams Woensdag 04 Februarie 2015 07:30

Rico Basson, hoof van Vinpro.

’n Studie wat wys hoeveel die Suid-Afrikaanse wynbedryf tot werkskepping bydra en tot 1,2% van die ekonomie beslaan, kan as argument gebruik word om meer steun van die regering te kry.

Rico Basson, hoof van die wynbedryfdiensorganisasie Vinpro, sê die bedryf het in 2013 danksy wynuitvoer tot R8,5 miljard se buitelandse valuta die land ingebring.

“Net die sitrusuitvoerbedryf is ’n raps groter. Die wynbedryf is een van net ’n handvol ekonomiese sektore wat positiewe valuta-inkomste inbring.”

Die studie wat Conningarth Economists in opdrag van die Suid-Afrikaanse Wynbedryfinligting en -stelsels (Sawis) gedoen het, wys die wye wynbedryf (wyntoerisme, vervaardiging, handel en die gasvryheidsbedryf ingesluit) het in 2013 R36,1 miljard of 1,2% tot die BBP bygedra en bykans 300 000 mense werk gegee.

Prof. Nick Vink, landbou-ekonoom van die Universiteit Stellenbosch, sê die studie wys die totale bedryf het van 1999 tot 2013 met 34% gegroei, hoewel die aantal hektaar wat met wingerd beplant is bykans onveranderd was. Dit wys op doeltreffender produksie.

Daar was ’n mate van konsolidasie in die bedryf van 2008 tot 2013.

Hoewel die getal produsentekelders van 69 in 1997 tot 50 in 2013 verminder het, het private kelders (wynplase met hul eie kelder op die plaas) van 218 in 1997 tot soveel as 504 in 2008 gegroei, maar teen 2013 tot 493 afgeneem.

Groothandelkelders het van 23 in 2008 tot 21 afgeneem.

Vink meen klein wynplase wat minder as 100 ton druiwe per jaar oes, is die meeste kwesbaar vir konsolidasie.

Volgens Vink is wynuitvoer waar die aksie in die bedryf is, met minder as 1% van Suid-Afrikaanse wyn wat in 1987 uitgevoer is teenoor 57% in 2013.

Binnelandse wynverkope stagneer egter.

Vink sê die bedryf neem al meer geskoolde en halfgeskoolde mense in diens en minder ongeskoolde mense.

Die studie wys die hele land en nie net die Wes-Kaap nie, baat uit die wynbedryf.

Hoewel die Wes-Kaap 53% van die bedryf se BBP-bydrae verteenwoordig, lewer Gauteng 15%, die Oos-Kaap 10% en Noord-Kaap en KwaZulu-Natal 7% elk.

Die studie wys egter op die groter druk op wynboere se winsgewendheid.

Wynproduksiekoste het sedert 2008 met 52% gestyg, terwyl inkomste uit druiweproduksie met 38% geklim het.

? Die volledige verslag is beskikbaar by www.sawis.co.za.